Kerkbode 14 Februarie 2020

Kersfonds: Kerkbode-span sê dankie vir R158 705,35

Sowat 18 kinderhuise landswyd sal baat vind by die ruim skenkings wat lidmate gemaak het tot Kerkbode se Kersfonds, wat jaarliks geld insamel om dié wat met kinders werk se hande sterk te maak. 

“Ons glo as gemeente dat die Here ons seën om tot seën te wees en vertrou dat Matteus 6:33 ook vir ons as gemeente geld: Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee,” het ds Louis Smit van die Murray-gemeente in De Doorns oor hulle bydrae laat hoor.

Te danke aan verskeie sulke gemeentes en individue, is ’n bedrag van altesaam R158 705,35 sedert einde verlede jaar ingesamel, volgens ons Kerkbode se Kersfondsbeampte Jeanne van Niekerk. 

Kerkbode werk jaarliks met ’n amptelike lys van begunstigdes wat vanjaar elkeen sowat R7 700 sal ontvang.

SA Kinderhuis in Kaapstad, wat een van die fonds se begunstigdes is, is vir 60% van hulle maandelikse uitgawes van donasies afhanklik, sê Sandra Collins, die bestuurder. Daarom is hulle uiters dankbaar vir die Kerkbode-Kersfonds se bydrae.

2020.02.14