Kerkbode 2 Augustus 2019

Lees in die Kerkbode van 2 Augustus ...

Bybel se vertaalgoggas

In die jongste Kerkbode berig ons oor Bybelvertaling ná ‘n dominee ‘n boek geskryf het wat 150 interessante verskille tussen vertalings lys en bespreek.

Ons praat ook met kerkleiers oor Manenberg op die Kaapse Vlakte, waar die weermag nou help om die vrede te bewaar te midde van bendegeweld. “Hierdie gemeenskappe het ons as kerk en geloofsgemeenskappe nou, meer as ooit, nodig om lig en sout te wees,” sê dr Llewelyn MacMaster, moderator van die VGK.

Op die middelblaaie, in ons gereelde Op Die Kerkstoep-rubriek, skryf dr Chris van Wyk oor die onderskeid tussen ware en valse kerk.

Stuur vir ons stories of wenke uit jou gemeente en streek na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..  En hou www.kerkbode.co.za dop vir vars nuus deur die week.

2019.08.02

Kerkbode 19 Julie 2019

Lees in die Kerkbode van 19 Julie ... 

waar TJ Strydom skryf oor Christo Wiese se 'Calvinistiese streep'.

Johann Symington praat oor die lewe en geloof in Tokio, Japan. En ons voorbladstorie gaan oor 'n gemeente in Pretoria wat mediese sorg aan ryk en arm verskaf deur die nuwe Tshwenyega-kliniek.Lees 'n volledige onderhoud met die projek se touleier.

Lees ook: Die oud-Springbok Theuns Stofberg het 'n nuwe loopbaan gevind wat jou dalk mag verras. 

Ons spog ook met ’n nuwe Kerkbode-app vir Android en Apple-fone, wat waarde toevoeg tot die Kerkbode-ervaring en nie die bedoel is om die papierproduk te vervang nie. Trouens, dis ’n verryking van die stories en lesersbydraes wat ons steeds met trots in gedrukte formaat in die voorportale van byna 400 gemeentes aflaai. 

2019.07.19

Kerkbode 14 Junie 2019

Lees in die Kerkbode van 14 Junie ... 

Hart en hande 

Die jongste uitgawe van Kerkbode het ’n woord-en-daad-tema. Ons voorbladstorie(asook bl10 -13) vertel hoe jy betrokke kan raak by die werk waarmee lidmate in die natuurrampgeteisterde Mosambiek besig is. En ons vat hande met die dryfkragte agter die Winterhoopveldtog, wat van 1-30 Junie op eie bodem plaasvind en die mees weerloses in ons samelewing teen die elemente beskerm. 

Mees gelese dié week: Moreleta oor drie opsies

Moreletapark, beswaarde gemeente van die NG Kerk, publiseer ’n scenario-uiteensetting wat insluit 1. Tree uit kerkverband. 2. Bly NG maar 'doleer' (treur). 3. Roep buitengewone Oostelike Sinode Sitting. Lees ’n nuusberig asook die volledige persverklaring hieroor by die skakel hiernaas. 

https://kerkbode.christians.co.za/2019/06/04/moreleta-oor-drie-opsies/

LUISTER: Gemeente skyn helder …en deel met ander

Kom luister bietjie na dié titelsnit van ’n dinamiese gemeente in Pretoria se nuwe musiekblyspel en laai die mp3 gratis af by die skakel hieronder.

https://kerkbode.christians.co.za/2019/06/05/gemeente-skyn-helder-en-deel-met-ander/

Comrades: Maak só korte mette met Polly Shortts

"Ek het gepreek uit Psalm 121 en die vyf groot bulte wat op die Comrades-roete is, gebruik as voorbeelde van hoe die Here elke tree van die pad met ons is," vertel leraar wat langasems bedien het voor dié naweek se gewilde padwedloop in KwaZulu-Natal. 

https://kerkbode.christians.co.za/2019/06/04/dominee-oor-comrades-dis-n-geestelike-reis/

Het jy al die nuwe Kerkbode-app afgelaai? 

Ons spog ook met ’n nuwe Kerkbode-app vir Android en Apple-fone, wat waarde toevoeg tot die Kerkbode-ervaring en nie die bedoel is om die papierproduk te vervang nie. Trouens, dis ’n verryking van die stories en lesersbydraes wat ons steeds met trots in gedrukte formaat in die voorportale van byna 400 gemeentes aflaai. 

Kry die skakel na die app-winkel op Kerkbode se tuisblad:

• https://kerkbode.christians.co.za/

2019.06.14

Kerkbode 31 Mei 2019

In die jongste Kerkbode (omslagdatum 31 Mei) lees ons oor die volgende ... 

PEN en MES
Kerkbode vat vandeesmaand hande met PEN en MES, wat hierdie winter reuse-werk sal doen om die mees weerloses in ons samelewing by te staan. Op bl 20 van die gedrukte uitgawe vertel ons ’n tweede omgeestorie in ons reeks oor dié organisasies se jaarlikse Winterhoopveldtog (1 - 30 Junie) waarby vrywilligers in talle stede en dorpe landwyd betrokke kan raak.

Kerkbode-app: Altyd byderhand
Met meer as 70% van ons digitale lesers wat ons stories op hul fone lees, het ons moeite gedoen om die reeds netjies Kerkbode-app nou werklik ’n puik produk te maak.

Het ons daarin geslaag? Gaan laai die opdateerde app (Android en Apple) af indien jy nog nie het nie, en laat ons gerus weet. Besoek www.kerkbode.co.za en volg die skakel na die app-winkel op die tuisblad. Dis gratis, nes ons aanlyninhoud.

Voorblad: ’n Data-storie oor hoe die kerk teen 2028 mag lyk
In die 1970’s was daar ’n stormloop na die preektstoel, wat gelei het tot ’n rekordaantal jong NG leraars in 1981. Hoe gaan die kerk lyk wanneer die “Klas van 1981” aftree? 

2019.05.31

Kerkbode 17 Mei 2019

In die jongste gedrukte Kerkbode vertel ons stories van drama, trauma en hoop. 

Alle oë op Moreletapark
Die vooruitsig van die NG Kerk wat eensklaps meer as 14 000 belydende lidmate “verloor” het ’n landwye beroering veroorsaak en selfs ’n bynaam op die lyf geloop: #morelexit. - Ons praat met rolspelers op bl 4.

‘Dan is jy 'n lammetjie’ sê BM-man wat roof oorleef
Ds Strydom Bruwer het nie die transitorower se wapen gesien tot die oomblik wat die man dit op hom gerig het nie. - Op bl 6 praat Bybel-Media se ontwikkelingsbestuurder: Fondse oor trauma en nuwe waardering vir elke oomblik.

Hillbrow: Knegte in die middestad
Op bl 20 berig ons vanuit een van die enjinkamers van landswye Winterhoopveldtog wat 1-30 Junie sal plaasvind en jaarliks lewens red te midde van die ongenaakbare winterkou.

Bly op hoogte van kerknuus by www.kerkbode.co.za

2019.05.17

Kerkbode 3 Mei 2019

In die jongste Kerkbode (omslagdatum 3 Mei) lees ons oor die volgende ... 

Verkiesing: Op www.kerkbode.com sê Peter Storey sy kommer is nie by waar jy jou kruisie trek nie, maar eerder by hoe die kerk korrupte politici en korrupsie in eie midde duld. Vir die video en storie, kliek hier: http://kerkbode.christians.co.za/2019/04/24/ons-hande-is-vuil/

Via Dolorosa: In die jongste gedrukte Kerkbode (omslagdatum 3 Mei) deel Isabel Ballot stories en foto's uit Pretoria, waar NG gemeente Meyerspark Paasfees met 'n uitbeelding van Jesus se Lydensweg gevier het. 

Andrew Murray-wenner: Jaap Durand sê geloof dra altyd 'n "moment van twyfel". Lees die onderhoud met hom en ander pryswenners op ons Boekeblad. 

Middelblad: Nico Simpson deel sy sketsboek met ons ná 'n opwindende studietoer in Amerika. 

Bly op hoogte van kerknuus by: www.kerkbode.co.za

2019.05.02

Kerkbode 19 April 2019

Die jongste Kerkbode (omslagdatum 19 April) vertel stories van insluiting, kommer en hulp:

Inklusiewe kerk

Lees Johanna van Eeden se profiel van ’n merkwaardige kerkraadslid wat aan Kerkbode sê: “I have cerebral palsy. Cerebral palsy does not have me.” - Met foto’s deur die bekroonde fotograaaf, Herman Verwey. - Voor- en middelblad.

Boere se hoop en kommer

Altesaam 60 mense, meestal boere maar ook ses predikante, het na vyf sprekers by ’n Grondberaad kom luister, berig Le Roux Schoeman uit Williston in die Karoo. - Dubbelblad met foto’s. 

Raak betrokke

Twee ‘bystandstories’ bied lesers die geleentheid om te help:

  • Projek Nova Vida staan slagoffers van sikloon Idai in Mosambiek by.
  • ’n Rampfonds is gestig na die NG Kerk op Redelinghuys in die Wes-Kaap op 9 April afgebrand het.

Webskakels na die laasgenoemde stories:

https://kerkbode.christians.co.za/2019/04/11/idai-meisie-vertel-sy-moes-in-boom-skuil/#.XLBPX5Mzb64

https://kerkbode.christians.co.za/2019/04/10/redelinghuys-rampfonds-vir-kerk-gestig/#.XLBPcJMzb64

Bly op hoogte van kerknuus by www.kerkbode.co.za

2019.04.19

Kerkbode 15 Maart 2019

Lees in die Kerkbode van 15 Maart ... 

oor die doop, die ekologie en #imagine 

Die doop: “Die NG Kerk het niks daarteen dat iemand groot gedoop word nie, solank dit soos die kinderdoop eenmalig geskied,” skryf ds Charl Stander, aktuarius van die NG Kerk in die Wes-Kaap in reaksie op ’n lesersbrief op bl 8 van die jongste uitgawe van Kerkbode (15 Maart). 

Die kosmos:  “Ek is die bedelaar, ek leeu, ek sneeu, ek hoor die boom teen die saag skreeu,” skryf die digter Antjie Krog in Die nuwe verbond – ’n Misorde vir die universum. Ons gesels met haar op bl 9 van die gedrukte koerant. 

#imagine: Ds Fouché de Wet, uitvoerende hoof van #imagine, vertel Kerkbode meer oor dié jaarlikse jeugfeeste, wat die naweek van 29 tot 31 Maart plaasvind. - Bl 10,11.

Bly op hoogte van kerknuus by www.kerkbode.co.za

2019.03.15

Kerkbode 1 Maart 2019

Kerkbode sê dankie 

Altesaam R176 400 is ingesamel vir Kerkbode se 2018-Kersfonds en hierdie bedrag word nou onderverdeel aan 42 kinderhuise regoor die land, volgens Hannelie Matthee, finansiële bestuurder van Bybel-Media, die uitgewer van Kerkbode.

Maar hoe help hierdie geld, wonder ’n mens? Conette le Roux doen juis hieroor verslag op die middelblad van die jongste gedrukte uitgawe van Kerkbode, waar ons lesers bedank deur te wys presies hoe hulle bydraes ’n verskil maak in die gemeenskap.

Intussen, op www.kerkbode.co.za, is die twee stories wat die meeste aandag getrek en kommentaar uitgelok het sedert die vorige aflewering van hierdie nuusbrief die “dramaties en traumatiese gebeure” by drie kinderhuise in die bestuur van KwaZulu-Natal Maatskaplike Dienste (CMD) en die bevestiging van ds Louis van der Riet as leraar by Parke-gemeente in Kraaifontein.

Byna 200 kinders is uit die sorg van Môrester Ladysmith, Môrester Newcastle en ’n baba-eenheid ook op Newcastle verwyder, maar ná ’n dringende hofbevel weer terug in CMD se sorg geplaas terwyl ’n ondersoek na klagte van onder meer rassisme by dié huise ondersoek word en Van der Riet (30), het die sy nuwe gemeente bedank vir hulle “waagmoed” om ’n gay teoloog te beroep.

2019.03.01