← Tuis

Portefeulje

Predikantetoerusting en -versorging

Retreats soos Bedieningsvreugde en Origins, inlywing van nuwe leraars, emeriti-forum en vooraftreeseminare.

Portefeuljeleier: Carli Hugo

Sinode 2026 · Voorbereiding

Kyk die portefeulje se video

Sinode 2026: Predikantetoerusting en versorging | Ds. Etienne Pheiffer

Al die voorbereidingsvideo’s vir Sinode 2026 →

Plakkaat: Geloofsreis met Jesus 2027

Geloofsvorming vir predikante · 2027–2029

Geloofsreis met Jesus 2027–2029

’n Drie jaar lange reis, met twee retraites per jaar.

Predikante, herontdek Jesus en sy koninkryksevangelie saam met ander predikante. Oor drie jaar (2027–2029) vorm twee vierdaagse retraites per jaar een voortgaande geloofsvormingsproses, met ruimte vir stilte, nadenke en eerlike gesprek. Ds Gys van Schoor van die Sentrum vir Geloofsvorming begelei ons, en Excelsus bied dit aan saam met die Hoëveld- en Goudland-sinodes.

Die eerste jaar, 2027:

  • Datums: 15–18 Februarie én 15–18 November 2027
  • Plek: Shammah, Noordwes (in persoon)
  • Koste: R4 000 vir albei retraites in 2027
  • VBO-punte: 60 vir albei retraites
  • Sluitingsdatum: 4 Februarie 2027

Registreer hier →

Terugblik 2022–2026

Wat die afgelope vier jaar gebeur het

Hierdie portefeulje het deur die hele termyn dieselfde leier gehad. Dit het ’n bestendige, jaarlikse ritme van versorging vir predikante gebring.

Bedieningsvoltap. Die jaarlikse Predikante-retreat is ná Pinkster gehou onder leiding van Ds. Barry van der Merwe, eers by Mosaïek Origins en later by Padre Pio. In Junie 2025 was die tema “Kom saam met my na ’n stil plek”. Vrouepredikante is op ’n eie retreat bedien, en ’n laatontbyt met Amore Bekker as spreker was ’n dankie vir hul besondere impak in die bediening.

Bedieningsontwikkeling. Saam met Sinode Goudland het die portefeulje die Geloofsreis vir Predikante by ATKV Buffelspoort aangebied, vanaf Februarie 2024. Nege predikante het oor drie jaar ingeskryf, en die vyfde Geloofsreis het in April 2026 plaasgevind. Elkeen getuig dat die reis hul bediening verryk het.

Bedieningsondersteuning. Predikante is ruim gesubsidieer om geleenthede by te woon, en die portefeulje het die eenmansvertoning Reünie by die Predikante-Lentekonferensie van 2025 geborg. Vir 2026 is subsidie vir twee Excelsus-programme geoormerk: Mentorskap en die Geloofsreis-retreat. In Augustus 2026 het predikante by die PredikanteSAAMkoms saamgekom.

Kyk verder: Video’s vir predikanteExcelsusKalender

Voortgesette bedieningsontwikkeling

Hoe kry ek VBO-punte?

Predikante en diensleraars bou deurlopend VBO-punte op by Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedieningsontwikkeling. Die basiese reël is eenvoudig: een uur leer is een VBO-punt, en punte word oor siklusse van drie jaar bereken.

Waarvoor Punte
Kursusse, konferensies en retraites 10 punte per dag (tot 30)
Mentorskap – vir mentor én mentee 10 punte per jaar
Verdere studies 50 per jaar (honneurs) tot 200 (doktoraal)
Selfstudie – teologiese boek met ’n opsomming van ±800 woorde 10 punte per boek (tot 20 per jaar)
Studie- en ondersteuningsgroepe 1 punt per uur (tot 10 per jaar)
Diens op ’n ring- of sinodale kommissie tot 10 punte

’n Paar voorbeelde. Die volledige tabel (ook vir artikels, aanbieders en kursusontwikkeling) is by Excelsus.

So hou jy rekord

Hoe om VBO-punte te kry → Leergeleenthede by Excelsus →

Argief

Oorspronklike portefeuljeplan (termyn 2022–2026)

As deel van hierdie portefeulje se strategie is die volgende beplan:

  • Vergaderings; ondersteuning aan predikante en diensleraars; geloofsreis en wegbreke.
  • Bedieningstoerusting: Bedieningsvreugde, ’n bederfdag vir vrouepredikante, die Origins-retreat.
  • ’n Induksieprogram vir nuwe leraars, ’n emeriti-forum en ’n aftreeseminaar.
  • Beplanning van ’n formasiereis.

Tydens ’n konsultasie met ringskribas is ook genoem: aandag aan vrouepredikante; die induksieprogram vir nuwe leraars wat lanklaas gehou is; ’n moontlike vennootskap met die Sinode van Wes-Kaapland; en ’n moontlike groep vir diensleraars.

Hierdie plan is ná Sinode 2022 opgestel en word bewaar as deel van die sinode se argief. Sien hoe die leierskap verander het →